My storie.

Wie is Lekker Weskus

1989 tot nou.

Hi, my naam is Dawid en hierdie is my storie.

Nooit in my lewe sou ek ooit kon raai dat ’n eenvoudige snoekbraai, twee jaar later sou lei tot Lekker Weskus, ’n radioprogram, 140 000 volgers op sosiale media en ongelooflike Weskus-avonture nie.

Ek was nooit as kind regtig blootgestel aan kos of koskultuur nie. Meeste sjefs, koskenners en kookboekskrywers vertel altyd van hul ouma se huis-kos of hul ma se beste Sondaggeregte. Ek het nie sulke stories nie. My oupa het gehou van kosmaak, maar al wat ek kan onthou, was sy lekker sop en die een keer toe ek in Graad 2 was, het hy baie lekker aarbeikonfyt gemaak. Dit was basies my geskiedenis wat kosmaak aanbetref.

Ek het wel uit ’n ongelooflik kreatiewe huis gekom. My pa was ’n deeltydse olieverfkunstenaar en my ma het trourokke ontwerp en gemaak. Ek het vroeg in my lewe ’n passie gevind vir fotografie, en later vir videografie. Op 18 het ek as assistent begin werk vir ’n troufotograaf in George, en op 20 het ek my eie troues begin skiet. Honderde troues en 13 jaar later, vind ek myself langs die Langebaan-lagoon, met my kamera en absoluut geen koskennis nie. ’n Snoek om te braai en ’n nuwe sosiale media platform, TikTok, waar ek graag video’s wil begin maak.

Vir die volgende week reis ek en Georgia op en af deur die Weskus, verfilm mense, kos, vis en die ongelooflike natuurskoon wat die Weskus bied. Ek kry toe my eerste voorsmakie van wat die Weskus is en die koskultuur wat hier lewe.

Twee weke later is ek en Georgia terug in die Weskus. Op daardie stadium is ek nog net agter die kamera, met geen idee wat twee jaar later op my wag nie. Nie net word ek verlief op die Weskus nie, maar die Engelse nooi met haar diep liefde vir die streek, steel stadig maar seker my hart. Voor ek myself kon kry, bevind ek myself week na week by Georgia en ons droom oor ’n toekoms saam op die Weskus.

Maart 2020 skok die wêreld ons en ewe skielik is dit lockdown. Ek pak my tassies in George en trek in by Georgia wat in Table View bly. Met die verlaging van vlak 5 lockdown na vlak 4, vertrek ons na die Weskus en bly vir ses weke in vriende se vakansiehuis in Dwarskersbos – reg op die strand. My liefde vir die Weskus ná daardie ses weke is nou onherroeplik.

Voor daardie dag in Langebaan, as jy my sou vra wat my gunstelingkos is, sou ek sê: ’n pepper steak garage-pastei of ’n blikkie Koo Spaghetti in tamatiesous.

Februarie 2019 kyk ek ’n kosdokumentêr, Street Food, en besluit dit is die tipe video’s wat ek wil skiet. Ek lê op ’n bank in my huis in George met Street Food in die agtergrond en blaai deur Facebook. Ek sien ’n vriendin van my, Georgia East het pas haar eerste kookboek, West Coast Wonder, uitgebring. Dis asof dit bedoel was. Ek stuur vir haar ’n boodskap en vra of sy haar kookboek sal wil omskep in ’n YouTube-videoreeks. Sy is dadelik aan boord en die beplanning begin.

Junie 2019, en ek is oppad na die Weskus. Ek ken op daardie stadium glad nie die Weskus nie en het nog nooit eers van die dorp Velddrif gehoor nie. Met die eerste rit oor die Carinusbrug, met soutpanne en flaminke aan beide kante, val ek kop-oor-stert vir die klein Weskusdorp.

Met my liefde vir die Weskus, en nou seekos ook, besluit ons om in April 2021 die skuif te maak van Table View na Velddrif. Tot op daardie stadium was daar nog geen idee van Lekker Weskus of dat ek myself ooit voor die kamera sou sit nie.

Georgia moes ’n berig skryf vir ’n tydskrif oor akkommodasie in die Weskus Nasionale Park. Ons besluit om daardie aand sommer ’n snoek te braai. By aankoms maak ek myself tuis en Georgia doen haar ding vir die storie. Ek kan nie onthou wat ek gedink het nie, maar ek sit toe my kamera op ’n driepoot, druk die knoppie en my eerste woorde in die kamera was: “Snoek Braai”.

Twee dae later, terug by die huis, sit ek die video saam en neem my stem op om bo-oor die video te speel. Ek laai dit op TikTok onder die naam Lekker Weskus. Ek was baie bang, aangesien ek al gesien het hoe negatief kykers op hierdie platforms kan wees – veral in die braaiwêreld. Ek laai die video, maak die app toe en sê vir Georgia ek gaan nie eens kyk hoe dit vaar nie.

Ek raak aan die slaap op die bank en word so om en by vieruur daardie middag wakker en besluit om te kyk of enigiemand die video gekyk het. WOW! Tien duisend mense het die video gekyk en daar is honderde likes! Drie dae later staan die video op amper 100 000 kyke en ek het ewe skielik 5 000 volgers. Nog ’n week later is die video op 300 000 kyke en ek het 10 000 volgers. Met net een video!

Net daar verander my hele uitkyk op die toekoms. Ons pak die bakkie, kry kreef en gaan braai in Tietiesbaai in Paternoster. “Kreef Braai” – 100 000 kyke, duisende nuwe volgers – en so begin my nuwe lewe as Lekker Weskus.

Ek voel nog steeds ongelooflik dankbaar vir al die ondersteuning van my volgers en kykers. Elke resep, elke video leer ek iets nuuts oor kos. Ek is steeds in die baie vroeë stadium van die koswêreld en het nog so baie om te leer.

Mens raak maklik vasgevang in indringer-sindroom, maar wanneer jy iemand raakloop wat vir jou sê jy het hulle geïnspireer om nuwe disse te probeer, of hoe my video’s hulle iets geleer het, of hulle geïnspireer het om self kosvideo’s te maak – dan weet ek ek is op die regte pad.

Week na week, sedert daardie eerste Snoek Braai video, kook, braai en reis ons op en af deur die Weskus om vir julle te wys hoekom ek so lief is vir hierdie Lekker Weskus van Suid-Afrika.