
Top 10 Restaurante
In en om die weskus
Wanneer dit by restaurante in die Weskus kom, is ’n goeie restaurant nogal skaars. Die Weskus is ’n “margarine-streek” — daar is baie opsies, maar baie min goeie opsies.
Ons is baie lief daarvoor om uit te eet. Ons is glad nie op soek na “fancy” fine dining of Kampsbaai-tipe kos nie. Wat ons wél soek, is kos wat goed uitgedink is, vol smaak is, en waarde vir geld bied. Daar was baie restaurante wat lank ons gunstelinge was, maar ongelukkig het die standaarde die afgelope paar jaar drasties geval. Ek verstaan dat plekke soms af dae het of dat dinge verkeerd kan loop, maar ná twee of drie besoeke waar dinge steeds nie verbeter het nie, weier ons om weer daar te eet.
Met dit gesê: hier is my Top 10-lys van die beste restaurante in die Weskus. Weereens — hierdie is my persoonlike lys. Geen plek betaal om op hierdie lys te wees nie. Ons het al by al hierdie plekke meer as een keer gaan eet, en die standaard en kwaliteit was elke keer tops.
Ek beoordeel ’n restaurant op die kwaliteit van kos, waarde vir geld, diens, en baie belangrik — die “vibe”.
Top 10 Restaurante Weskus
Ek werk tans aan fotos en volle “reviews” oor elke restaurant.
Isabellas - Lambertsbaai
In die hartjie van Lambertsbaai, reg in die hawe, is Isabella’s. Die restaurant het ’n groot verskeidenheid opsies op die spyskaart — van sushi en pizza tot, natuurlik, hope vars seekos. Hulle sushi is ’n 10/10, maar ons gunsteling is die diepgebraaide Cape bream met calamari.
’n Goeie aanduiding van hoe goed ’n restaurant regtig is, is hoe hulle hul chips maak — en hier kry jy egte Sandveld-chips.
Jy sit en kyk uit oor ou visserbote, en oorkant die water lê Bird Island, waar jy jou kos rustig kan gaan afstap. Die diens is uitstekend, die porsies is groot, en die “vibe” is fantasties. Ons besoek Isabella’s ten minste twee keer per maand.
Website: https://isabellas-restaurant.co.za/
2. Muisbosskerm - Lambertsbaai
Daar is iets in die water in Lambertsbaai — met die top twee restaurante op my lys wat juis hier geleë is. Almal ken Muisbosskerm, so ek hoef nie veel hier te sê nie. Dis Suid-Afrika se eerste ooplug-seekosrestaurant waar jy kan eet soveel soos jy wil.
By aankoms sien jy die vure brand, die vis op die kole, en die gees is ooral. Hier eet jy jou dik aan mossels, rollmops, plaasbrood en snoek. Engelvis, kreef en ’n vleispot is ook op die vuur, gereed om jou trommeldik te eet.
Die restaurant is reg op die strand, en ’n laatmiddag-sessie is ons gunsteling — om te sien hoe die son sak oor die see. Hier eet jy met ’n mosselskulp en probeer hard om iets van alles te proe vóór jy jouself vol eet aan die plaasbrood en konfyt.
Website: https://www.muisbosskerm.co.za/
3. The Noisy Oyster - Paternoster
Ek het eers baie onlangs vir die eerste keer gaan eet by The Noisy Oyster. Mens sien dit altyd as jy inkom in Paternoster, so ons het uiteindelik besluit om die restaurant ’n kans te gee. Dis ’n gesellige restaurant met ’n bedekte buite-area.
Ons het as voorgereg hulle pani puri probeer — dit was uitstekend. Ek sal beslis weer teruggaan en sommer twee porsies daarvan bestel! 10/10.
Vir hoofgereg het ons die pork belly en hul lynvis gehad — albei 10/10. Die pryse op die spyskaart is effens aan die hoër kant, maar dit is beslis die geld werd. Al die kos was ongelooflik lekker, die diens was puik, en die hele aand se vibe was amazing. Dit was ’n koue aand, en die kaggel langs ons het gebrand — ons was heerlik gemaklik.
Ek kan nie wag om weer terug te gaan om nog van hul spyskaart te probeer nie. Beslis een van die Weskus se beste restaurante.
Website: https://www.instagram.com/noisy_oyster_paternoster_/?hl=en
4. Elandsbaai Hotel
Jy wonder seker hoekom die Elandsbaai Hotel so hoog op die lys is — en dis 100% net omdat ons die vibe, ligging en uitsig so baie geniet. Daar is net één ding op hulle spyskaart wat ons bestel: hul hake en chips met suurlemoenbotter. Dis moontlik ons gunsteling vis-en-chips spot op die hele Weskus.
Jy sit op die hotel se grasperk wat uitkyk oor die see en karavaanpark. Vêr links lê Bobbejaanspunt, en die golwe breek so 50 meter van jou tafel af.
Die hotel is redelik onveranderd sedert die 70’s, maar dit het ’n baie tuisgevoel. Die huiskatte kom groet jou terwyl jy ’n lekker koue glas Kookfontein Sauvignon Blanc geniet.
Ek kan nie vir jou sê of enigiets anders op die spyskaart lekker is nie — ons het dit nog nie probeer nie. Maar as jy ’n down-to-earth plek soek met lekker vis-en-chips, ’n mooi uitsig en baie billike pryse, is die Elandsbaai Hotel beslis ’n stop werd.
5. De Seekat - Paternoster
De Seekat in Paternoster is ons go-to sushi restaurant in die Weskus. Geleë in die Paternoster Waterfront, is dit ’n binne- én buiteplek met gemaklike banke onder sambrele. Wanneer ons lus is vir sushi, is dit altyd waarheen ons gaan.
Ons kry gewoonlik ’n lekker bank buite, bestel ’n bottel witwyn en deel ’n groot sushi-platter. Die diens is altyd uitstekend, die kos is altyd heerlik, en die uitsig is pragtig.
Die restaurant is gewoonlik besig, so maak seker jy bespreek vooraf vir ’n tafel. Ná ete kan jy deur die Waterfront se kunsgalerye stap of die klein winkels daarbinne besoek.
Website: https://www.facebook.com/deseekat
6. Wolfgat - Paternoster
Gekies as een van die beste restaurante in die wêreld in 2021 – Wolfgat is fine dining op sy beste. Ek was baie bevoorreg om al twee keer daar te gaan eet, en Kobus van der Merwe en sy span sit ’n ongelooflike seekos-ervaring voor jou neer. Al die disse is inheems aan die Weskus, en daar word net voorberei wat hulle vars op die dag kan kry.
Die spyskaart is vasgestel, en jy kan kies of jy dit met of sonder wynparing wil geniet. Elke dis vertel ’n storie van die Weskus en neem jou waarlik op ’n kulinêre avontuur deur die streek.
Jy moet wel maande vooruit bespreek om ’n plek te kry, en dit is rêrig die wag werd. Die restaurant is geleë op ’n klein heuwel wat uitkyk oor Paternoster se strand. Op ’n mooi dag word almal buite op die stoep bedien, terwyl jy kyk hoe die kreefbote terugkeer van die dag op see.
Wolfgat is ’n “bucket list”-tipe plek, en elkeen moet dit ten minste een keer in hul lewe probeer beleef.
Website: https://wolfgat.co.za/
7. Queens Cottage - Langebaan
Weggesteek in ’n winkelsentrum in Langebaan is Queen’s Cottage — ’n klein restaurant met groot geur. Dié restaurant is ’n woodfired kitchen & smokehouse met van die lekkerste vleisgeregte wat jy in die Weskus sal kry: brisket, beesrib, peri-peri hoender en meer.
Hulle het net ’n krytbord-spyskaart wat gereeld verander, met net ’n paar opsies en ’n fantastiese wynlys om saam met jou vleis te geniet. Hierdie is ’n karnivoor se droomrestaurant.
Daar word soms gesê dit is die restaurante sonder ’n mooi uitsig wat die beste kos maak — en Queen’s Cottage is beslis een van hulle. Hier sit jy en kyk hoe die vlamme in die kombuis tot teen die dak spring, terwyl hulle jou vleis perfek braai. Ware passie en liefde vir wat hulle doen wys op elke bord, en jy loop daar uit trommeldik en dink: Wanneer kan ek weer kom?
As jy ware braai- en rookkuns wil beleef, bespreek ’n tafel by Queen’s Cottage.
Website: https://woodfiredkitchen.co.za/
8. Alegria - St Helena Baai
Alergria is ’n Portugese restaurant geleë in Slipperbaai, een van St. Helenabaai se klein baaie. Die restaurant het onlangs weer sy verskyning op my top-10-lys gemaak. Hulle nuwe, kleiner spyskaart bied nou heerlike seekosdisse aan. My gunsteling is die Refogado do Peixe — pan-gebraaide stokvis op baba-aartappels met ’n Portugese tamatie-, olyf- en kekerertjiesous.
Die restaurant het sitplek binne of buite, met ’n praguitsig oor die see. Op ’n helder dag sien jy Dwarskersbos en Kleintafelberg op die horison. ’n Paar meter vanaf jou tafel breek die branders tussen die rotse, en die huiskat kom graag groet. Dis weereens ’n tuisvoelende restaurant met karakter. Die diens was nog altyd goed, en die pryse is nie te duur nie.
Website: https://www.alegriashb.co.za/
9. Sandstone - Saldanha
Sandstone is weer een van daardie plekke waar ek net een item bestel — en dit is húlle ribs. Jy sal nie glo hoe moeilik dit is om regtig lekker ribs in die Weskus te kry nie. Ek bestel altyd ribs waar ons ook al gaan eet, en word meestal teleurgestel. Maar toe ontdek ons Sandstone, en daardie ribs is ’n 10/10.
Op die oewer van die Saldanhabaai-lagoon sit jy net ’n paar meter van die water af. Hier kan jy visserbote, skuite, en die lang rye mossel- en oesterplase sien. In die verte lê die groot vragskepe en die ou ysterertsfabriek.
Die diens is altyd goed en vriendelik. Jy wag nie lank vir jou kos nie, en die porsies is groot. Die pryse is ook baie billik. Jy kan binne of buite sit, en daar’s altyd ’n paar hawekatte wat mooi kom vra vir ’n happie.
Ek móét seker nou en dan iets anders op die spyskaart probeer… maar vir nou is Sandstone my nommer een restaurant vir ribs in die Weskus.
Website: https://www.facebook.com/TheSandstoneSaldanha/
10. Rosemead Bakery - Yzerfontein
Meer ’n bakery as ’n restaurant, Rosemead in Yzerfontein bied wel heerlike ontbyt- en vinnige middagete-opsies aan — met die varste brood, olyfstokkies, suurdeeg of croissants. Die koffiekroeg maak topklas koffie of tee.
Wanneer ons in Yzerfontein is, eet ons áltýd ontbyt hier en kyk hoe die bakkers die deeg vorm, die oonde laai met vars brode, en ons die hele proses van bak geniet.
Wees vroeg, want Rosemead is altyd vol. Diens en kwaliteit is uitstekend, en die vibe is tops. Met surfboards teen die muur en die reuk van vars gebak in die lug, kan jy eenvoudig nie verkeerd gaan by Rosemead nie.
Ek stap nooit daar uit sonder ’n boks vol suurdeegbrood nie — en natuurlik, my gunsteling (en verseker die beste in SA): hulle Pasteis de Nata.