Kom ons begin ‘n tuin.

Na sewe jaar in huise met te min grond, plant ek in 2026 eindelik weer my eie groente.

Dis die eerste keer dat ons in 'n huis bly met genoeg tuinspasie om iets behoorlik te kan aanpak.

In my kinderdae was my familie almal groot tuinmakers. Ons het in George gebly en daar was dit maklik: goeie grond, goeie klimaat, min wind en baie reën. Al 10 my oupa se vingers was groen — die man kon vir jou tuin maak. Sy groentetuin was altyd propvol. Ek onthou die wortels, die kool en veral die aarbeie waarmee hy elke jaar potjies vol konfyt gemaak het.

Dwarskersbos is 'n hele ander storie. Die somers is droog met baie wind, die grond is meer seesand as enigiets anders, en hier reën dit basies net in die winter. Die grootste uitdaging gaan beslis die wind wees, die droë weskuswind trek al die vog uit die blare en die arme plante het skaars blare oor na 'n paar dae se suidoosterwind. In die wintermaande lê die humiditeit tussen 95 en 99%, en dan val dit in die somer terug na onder 40%. Ek kan nou half verstaan hoekom meeste huise hier net kunsgras het en groot blompotte met droë stokke.

Die weskusklimaat is baie dieselfde as Griekeland s'n, so vir die meer permanente deel van die tuin gaan ek hoofsaaklik na Mediterreense plante kyk: roosmaryn, olywe, kapokbos en vetplante. Ek gaan nogtans my bes probeer met sitrusbome, alhoewel die paar wat ons nou al vir vier jaar het, nog nie regtig goed gedoen het nie.

Van stoor kamer

Na tuin maker.

Voor ek egter 'n enkele saadjie geplant het, het ek eers die stoorkamer omskep in 'n tuinkamer. Die plan is om hier my nuwe videos te skiet, nie net resepte nie, maar ook my nuwe tuinmaakavonture. Die kamer is nou my gunsteling kamer in die huis en jy sal my waarskynlik van sonop tot sononder hier vind. Vir een of ander rede is die kamer net nie dieselfde sonder 'n radiostasie wat in die agtergrond speel nie. Dit herinner my seker aan my jonger dae, maar dit bring 'n vreemde rustigheid oor my om vir die eerste keer in baie jare weer na die radio te luister. Ek het ‘n “app” gekry vir my foon wat jou toelaat om enige radiostasie in die land gratis op te luister. My gunstelling is natuurlik BokRadio. Lekker Afrikaanse musiek en die geselsies wat hulle aanknoop is baie interesant.

Dis nou middel Mei en ek het solank begin speel met 'n klomp verskillende sade: beet, blaarslaai, wortels, boontjies, knoffel, aartappels en radyse. Hulle staan op 'n rak onder 'n venster in die tuinkamer en ek loer elke dag om te sien of iets al sy kop uitgesteek het.

Tot dusver het die blaarslaai en die beet opgekom. Ek hou maar duim vas dat hulle die oorplanting gaan oorleef. Ek het vier verhoogde tuinbeddens op Takealot bestel waarin ek nuwe grond en kompos gaan sit. Sodra my finansies dit toelaat, sal ek pale plant en nette span om teen die wind te beskerm. Ons erf se mure is baie laag en is deel van die groengordel, wat beteken die bokkies kom in die aand en eet baie van die plante. Teen hulle sal ek ook moet beskerm.

Blaarslaai is al lekker aan die gang.

Ek het nie geweet jy moet spesiale aartappels koop om te plant nie. Die in die winkels word blykbaar behandel moet iets wat hulle keer om so uit te loop.

My kennis van tuin maak is baie minimaal. As kind was ek meestal die een wat gate moes grou vir my ma se plante, en wanneer my ma oor 'n naweek met 'n snoeiskêr die tuin in is, moes ek die takke en blare optel en op die kompos gaan gooi. Weens die grote van die tuin en die onbetaalde slawe-arbeid was 'n tuin nog altyd iets wat ek vermy het. Maar ewe skielik op die nuwe ouderdom van 37 het die gogga my ook gebyt, en nou kan ek nie verby 'n kwekery ry sonder om eers te gaan kyk wat hulle het nie.

Een probleem wat ek al klaar sien: ek wil te veel plante op een slag groei, en elke plantgroep het sy eie manier van groei, water en sorg. Hoe ek gaan kop hou oor wie wanneer wat moet kry, weet ek nie, maar ons kyk maar hoe dit gaan.

Ek moet ook bieg dat tuinmaak my geduld leer. As iemand wat dadelik resultate wil sien, is hierdie 'n stokperdjie wat tyd verg. Ek wil die sade plant en verwag môreoggend moet die plantjie al deurbreek. Maar ek wag. Gelukkig het die beet en blaarslaai binne dae begin groei, en dít was vir my baie opwindend.

So kom saam met my op hierdie nuwe avontuur. Ek sal probeer om weekliks te skryf oor wat nuut is, waar ek foute gemaak het, en stap saam met my waar ek my bes probeer om my eie groente te plant. As jy al ooit aan die Weskus probeer tuin maak het — of erger nog, deur die suidooster — laat my weet, want ek het dié van julle met groen vingers se wenke nodig.