Alegria
St Helenabaai
Alergria is ’n Portugese restaurant geleë in Slippersbaai, een van St. Helena-baai se klein baaie. Die restaurant het onlangs weer sy verskyning op my top-10-lys gemaak. Hulle nuwe, kleiner spyskaart se disse is eg Portugees — met soveel passie en geur.
Die restaurant het sitplek binne of buite, met ’n praguitsig oor die see. Op ’n helder dag sien jy Dwarskersbos en Kleintafelberg op die horison. ’n Paar meter vanaf jou tafel breek die branders tussen die rotse, en die huiskatte kom groet graag. Dis weereens ’n tuisvoelende restaurant met karakter. Die diens was nog altyd goed, en die pryse is nie te duur nie.
Kan jy vir n beter tafel vra?
Don en Connie met hulle woefs
Eienaars Don en Connie sit in hulle gunsteling hoekie met die honde op die skoot en vertel vir ons ’n bietjie van die restaurant en hoe hulle die area oor die afgelope 30 jaar sien verander het.
Don vertel met trots hoe sy wingerd waarskynlik die een is wat die naaste aan die see in Suid-Afrika is — die klein wingerd sit werklik omtrent sewe meter van die golwe af. Met groot opgewondenheid vertel Don ook dat hy grappa maak van die druiwe uit sy wingerd. Hy maak ook likeur met granadillas en sê dat hy eksperimenteer om gin te maak van die menigte turksvye op die grond. Alhoewel daar nog niks van hierdie eksperimente op die spyskaart is nie, skink hy graag ’n bietjie vir ons om te proe — en as jy ’n espresso bestel, kan jy dalk ’n glasie grappa saam kry, sommer net om te proe.
Heel moontlik die wingerd naaste aan die see in Suid Afrika
Don se tuisgemaakte Grappa en regs is sy Granadilla Liqueur.
Die granadilla liqueur gaan perfek met roomys.
Die restaurant is binne-in die paartjie se ou huis, en ’n mens voel asof jy by hulle kom kuier vir middagete. Don van Malmesbury en Connie van Portugal vertel hoe hulle al 30 jaar in St. Helenabaai woon en elke dag net meer verlief raak op die Weskus. In 2000 het hulle besluit om die huis in Alegria te omskep, en die gebou teen die strand het hulle toe hul tuiste gemaak.
Die restaurant se mure is vol oudhede, met mosselskulp-paadjies wat jou na die see lei. Hier kweek hulle self al hul groente en kruie wat in die kombuis gebruik word, en Don wys vir my ’n foto van 2019 toe hier nog niks was nie. Nou is die restaurant se tuin groen, en die plantlewe bars uit sy nate.
Die tuine vandag in 2025
Hulle hou elke laaste naweek van die maand ’n musiekaand waar kunstenaars kom tokkel — met die St. Helenabaai-golwe wat in die agtergrond breek en die visserbote wat terugkom van die diepsee.
Alegria se kos voel soos ware Weskus-huiskos: vol geur en vars bestanddele. Hulle sardientjies en milho frito is van die beste wat ons al gehad het. Georgia se gunsteling is die pan-gebraaide calamari en skyfies, en ek bestel die Afogado de Peixe.
Alegria voel soos om by ou vriende se huis te kuier — met lekker kos en goeie geselskap. Daar is nog baie op hul spyskaart wat ek wil probeer, en met ons volgende kuier gaan ek beslis hul seekos-espetada bestel.
Hier sit jy en kyk uit oor die water, gaan stap onder by die see, loer in die rotspoele, stap deur die tuin, of geniet lewendige musiek met ’n koue glasie wyn — of selfs ’n bier.
So gaan maak n draai by hierdie pragtige Portugese restaurant as jy jouself dalk in die area bevind. Hulle sit 5min voor St Helenabaai as jy inkom vanaf die R399 pad.
Website: https://www.alegriashb.co.za/