Winterfees van Wild en Wyn by La Motte
Op ’n koue Vrydagmiddag het ons ons op pad gevind na die historiese La Motte in Franschhoek. Dit was my heel eerste besoek aan dié ikoniese plaas. Ek het geweet dit sou ’n spesiale aand wees, maar niks kon my voorberei op die warmte, gasvryheid en kulinêre uitnemendheid wat ons daar sou beleef nie.
Die Herehuis en Warm Ontvangs
Omdat die weskus te vér is om terug te ry na n aand van baie wyn, het La Motte vir ons laat oorslaap in die pragtige ou herehuis, ’n gebou wat sy geskiedenis in elke muur en houtbalk dra. Binne was dit knus en stylvol, met n verassing van varsgebakte koek en lekkernye uit die plaas se eie bakkery. Die huis is nie oop vir die publiek nie, so ons het baie geëerd gevoel om hier te kon slaap.
Terwyl die son stadig agter die berge wegsmelt, het die winterlig die lanings bome en die witgekalkte geboue in goue kleure gehul.
L’Ami Family Brasserie
Met sononder het ons na L’Ami Family Brasserie gestap. Die restaurant, met sy oopvlam Spaanse Vulcano Gres-grill en groot kaggel, het ’n warm, intieme atmosfeer uitgestraal. Ons tafel was perfek geplaas voor die kaggel, die ideale plek om die koue buite te vergeet en die aand se geure ten volle te geniet.
Die Spyskaart: Wild en Wyn
Chef Stephan Moolman het die aand se spyskaart saamgestel, ’n viering van wildsvleis in kombinasie met die karaktervolle wyne van La Motte. Elke gereg was noukeurig gepaar met ’n spesifieke wyn uit die kelder, van jong vars Chardonnay tot die majestueuse Hanneli R.
Peuselhappies
Die eerste borde het aangekom met salamie, sosatie en appelkose, en fillet en mosterd (hulle weergawe van Steak en Chips) Dit is bedien saam met die La Motte Franschhoek Chardonnay 2025. Hierdie happies was dalk klein, maar wow, as dit is hoe ons die aand begin, kon ek nie wag vir die volgende geregte nie.
Voorgereg
’n Hoogtepunt van die aand was die tartaar van wild, beenmurg, pecorino en groen olywe. Die tekstuur en geure was kompleks, ryk en tog elegant. Die wynaanpassing, La Motte Franschhoek Shiraz 2017, het die gereg perfek afgerond. Ek was baie bly toe Georgia sé sy gaan nie als eet nie (om plek te hou vir die res) want ek kon maklik nog 3 van hierdie geregte klaar gemaak het. 10/10.
Hoofgereg
Daarna is ons bederf met lende, gerookte beet en rooiwyn Bordelaise. Die La Motte Franschhoek Shiraz 2015 het hier die sterrol vertolk, met sy diepte en ryp vrugtekarakter wat die vleis laat sing het.
Tafelgereg
Die tafel is aangevul met waterblommetjie bredie en ’n pastei met gestoofde groente, nostalgiese, vertroostende disse wat die aand se tema van winterwarmte onderstreep het. Ewe skielik is die tafel propvol kos en jy weet nie waar om te begin nie, nie gepraat van hoe jy alles gaan inpas nie. Maar aanghouers wen, en alles behalwe die pastei was gou gou klaar. Ek het my bes probeer, maar daardie pastei was seker genoeg vir 6 mense. Weereens 10 uit 10 vir elke vurk vol.
Bykosse
Vars aartappels en kapperbessies, en ’n rocket slaai met Parmesaankaas het verfrissende kontraste gebied, alles saam geniet met die ikoon Hanneli R 2022.
Nagereg
Die aand is afgesluit met sjokolade crémeux, en natuurlik die gunsteling van die tafel, Amarula Malva.
Op die stadium kon ons nie meer n krummel inpas nie, maar ek wou baie graag die Amarula Malva probeer, en wow. Georgia wou nog die malva probeer toe is my bord leeg. Weereens van begin tot einde was hierdie feesmaal ongelooflik.
’n Onvergeetlike Aand
Elke gereg het die vorige oortref, elke wyn het ’n nuwe laag bygevoeg. Dit was nie net ’n ete nie, maar ’n reis deur geure, seisoene en stories, ’n aand waar plaas, geskiedenis, kos en wyn in volmaakte harmonie saamgekom het.
Vir my persoonlik was die sosatie met appelkose, die wildtartaar met beenmurg, die pastei en die Amarula Malva die uitstaande disse. Trooskos en fynproewersgastronomie in een.
Deur die loop van die aand het ek ook gesien hoe Chef Stephan n kombuis kultuur geskep het waar almal in die kombuis ewe belangrik is. Dit was een van die rustigste kombuise wat ek gesien het, daar is n respek kultuur hier waarvan baie profesionele kombuise kan kom leer. Daar was geen ego’s of ’n chef wat sy stem verhef nie, maar eerder ’n gevoel van wedersydse respek tussen almal.
Jy kon sien hoe hulle as ’n span saamwerk. Geen spanning, geen toksiese energie nie, net ’n gesonde, ondersteunende werksomgewing waar kreatiwiteit en samehorigheid saam smelt. Dit het duidelik in die spyskaart en die disse wat ons bedien is gewys, elke bord ’n refleksie van daardie harmonie en balans.
La Motte het met hierdie winter wild en wyn-ervaring weereens gewys waarom hulle ’n ikoniese bestemming is.
Volgende Oggend…
Na ’n warm en knus aand het ons die volgende oggend ons pad gevind na La Motte se pragtige bakkery om weer vars te voel ná ’n aand van dalk net ’n bietjie te veel wyn. Die Franse-geïnspireerde ruimte, met natuurlike lig wat oor die tafels stroom, was die ideale begin vir ’n koue en reënerige oggend. Tot my verleentheid het ek my teesakkie sommer direk in my koppie geplaas in plaas van die klein keteltjie, en ná die eerste koppie was ek toe net met ’n potjie lou water oor. Georgia, soos altyd, het haar gunsteling bestel – die Eggs Benedict wat hier as die Eggs à La Motte bekend staan. Ekself het die boere-ontbyt aangedurf, bekend as die Farm Feast, ’n feesmaal wat my behoorlik laat reg voel het vir die dag. Ná ontbyt het ons nog vinnig gaan loer in die plaaswinkel, waar die geure en plaasprodukte die ervaring mooi afgerond het.
Baie dankie aan La Motte en die ongelooflike span vir n onvergeetlike aand op die plaas. Ek kon nie vir n beter eerste besoek gevra het nie. Julle het my soos n VIP laat voel, ek kan nie wag om julle gou weer te besoek nie.