VUUR Restaurant

Dis Augustus 2023. Die see se gedreun is vaag hoorbaar in die agtergrond, en die laaste lig van die dag gooi ‘n goue gloed oor die houttafel waar ek saam met ‘n klomp mense sit in ‘n strandhuis in Yzerfontein. Voor ons staan ‘n man wat lyk of hy reg is vir oorlog – nie ‘n gewone braaier dié nie. Met leerarmbeskermers, ‘n stewige leervoorskoot en ‘n sak vol messe, lyk hy soos iets uit ‘n fliek. Dis Shaun Scrooby, en hy’s besig om vir ons ‘n seekos-ervaring aanmekaar te slaan wat ek nooit sal vergeet nie.

Die reuk van botter, suurlemoen en vuur hang swaar in die lug. Elke gereg wat Shaun op die kole sit, voel soos ‘n bietjie teater. Later toe dinge rustiger raak, raak ek en Shaun aan die gesels. Ons praat oor kos. Oor die Weskus. En natuurlik oor braai. Dis toe dat hy my begin vertel van sy restaurant – VUUR.

Hy vertel hoe hy ‘n ou perdestal op Remhoogte Wynplaas omskep het in ‘n klein, intieme eetplek wat net ses mense op n slag kan eet. Hy praat van die vlamme, van stories aan tafel, van vuur as simboliek. En dan vertel hy van sy droom om uit te brei – ‘n groter gebou, miskien selfs een op ‘n eiland.

Daardie aand het ek myself belowe ek móét Vuur gaan beleef. Maar soos dinge maar gaan, het dit twee jaar geneem voordat ek dit reggekry het. En toe, verlede Vrydag, stap ek uiteindelik by VUUR in. Ek het gedink ek weet wat om te verwag. Ek was verkeerd.

Wat ek daar ervaar het, was nie net ‘n ete nie. Dit was ‘n ritueel. ‘n Reis. En ek was nie gereed vir wat op my gewag het nie.

Die eerste Vuur restaurant.

’n Weskusser in murg en been – dis Shaun Scrooby. Gebore op Vredenburg en grootgeword net buite Langebaan op sy ouma se melkplaas, dra hy die Weskus nie net in sy hart nie, maar in sy gees. Hy vertel graag van sy jong dae toe kreef nog volop was en só groot soos jou arm. Dae vol avontuur langs die Bergrivier, en aande van familiebraaie onder sterrehemels – dis daar waar sy liefde vir kos en vuur begin het.

“Om ’n vuur is waar mense bymekaar kom, stories vertel en kulture gevorm word – al vir duisende jare,” sê Shaun met oortuiging. “’n Vuur is iets wat ons as mense verbind. En dís die hart van VUUR – my restaurant is bedoel om ’n plek te wees waar mense saamkom, stories deel en nuwe vriende maak.”

Lockdown was die draaipunt. Ná twintig jaar in die safari-toerismebedryf het Shaun skielik, soos soveel ander, meer tyd op sy hande gehad as wat hy geweet het wat om daarmee te doen. Maar eerder as om stil te sit, het hy teruggedraai na ’n ou liefde: kos. En nie net om dit te kook nie — om dit te leef.

Jare lank het hy as safari-gids gewerk, en tydens daardie tyd ’n vriendskap gesmee met een van die eienaars van Remhoogte Wynplaas net buite Stellenbosch. Tydens ’n besoek aan die plaas ontdek Shaun iets wat amper vergete was — ’n ou perdestal, oorgroei, verwaarloos, amper onherkenbaar. “Mens kon skaars die gebou sien, dit was heeltemal toegegroei,” onthou hy.

Maar waar ander net ’n ruïne sou sien, het Shaun potensiaal gesien. Remhoogte het hom die gebou aangebied om as restaurant te gebruik. En só het die droom begin.

Vir drie maande lank het Shaun met sy eie hande die ou perdestal omskep in wat ons vandag as VUUR ken. Hy het die tafels gebou. Die stoele. Die ysterbraai. Die roosters. Elke stuk hout en staal het deur sy hande gegaan. Geen sjefspan. Geen ontwerper. Geen begroting vir bemarking nie. Net vuur, sweet en visie.

“Ek het geen idee gehad hoe ek boude op dié stoele gaan kry nie,” sê hy laggend. “Maar ek het geweet ek moet begin.” En begin het hy — met vuur in sy oë en vlamme in sy hart.

Gekies as nr 87 beste steak restaurant in die wereld.

Shaun vertel my sy nuwe idees wat nog by gaan kom.

Teen vroeg in 2024 het VUUR só gewild geraak dat dit duidelik was – dit’s tyd om groter te gaan. Die waglyste was lank, die vraag was hoog, en Shaun se visie het begin groei, saam met die vlamme.

Hulle het besluit om iets besonders te doen — om die restaurant uit te brei na 'n klein eiland in die middel van die plaas se dam, bekend as Goose Island. Hier, op dié unieke stukkie grond omring deur water en natuur, het die nuwe VUUR begin vorm aanneem. Die groter ruimte kon nou tot 16 mense gemaklik huisves, met ‘n asemrowende uitsig oor die plaas. Terwyl jy sit en smul, sien jy springbokke, sebras — en ja, selfs 'n enkele wildebees — wat rustig wei in die verte.

‘n Groter kombuis is gebou, die buitesitarea uitgebrei, maar een ding het dieselfde gebly: die hart van die ervaring. En dis hier, tussen vuur en water, tussen gasvryheid en geur, waar Shaun ons verwelkom het vir 'n braai-ondervinding soos nog nooit tevore nie.

By VUUR is daar geen spyskaart nie. Jy kom aan, neem jou plek in, en laat gaan van alle verwagtinge. Want hier gaan dit nie oor wat jy kies nie — dit gaan oor wat jy gaan beleef. Elke ete is 'n verrassing, ‘n sewe-gang braai-ervaring wat jou op ’n kulinêre reis neem, vlam vir vlam.

Die eerste gereg van die dag het reeds ’n statement gemaak: ’n geroosterde suurdeegbroodjie met beenmurg, gesmeer met bloubessie- en boegoe-konfyt, bedien saam met wagyu-salami en gefermenteerde swartknoffelbotter en rooibos. Net daar, met daardie eerste hap — die sout, die soet, die rokerige merg, die aardse boegoe — het ek geweet: vandag word ek bederf.

Ons eerste gereg - Brood & Konfyt

By VUUR bedien Shaun jou self.

Toe kom die geelstert. Nie sommer net ’n vis op die kole nie — hierdie geelstert het 14 dae lank in ’n yskas gedroog. Die proses konsentreer die geur, maak die vleis ferm en laat die vel braai tot ’n perfek krakerige tekstuur. Dit word bedien op ’n romerige mosterdsous — en ek sê dit sonder huiwering, een van die lekkerste souse wat ek nóg geproe het. Saam met die geelstert word bedien gesmoorde kool en helder oranje trout roe wat die gereg ‘n sout, see-agtige vonk gee.

Die geurkombinasie. Die teksture. Die krakerige vel teenoor die sagte sous. Dit was eenvoudig onbeskryflik — ’n ware hoogtepunt van die dag.

En dan, natuurlik… wat is ’n braai sonder ’n braaibroodjie?

Maar hierdie was nie sommer enige ou kaas-en-tamatie-braaibroodjie nie. Shaun se weergawe van ’n braaibroodjie is grof, elegant en totaal onvergeetlik. Dié gereg word met die hand geëet — en glo my, jy gaan mors. Gemsbok-tartar, vol smaak en subtiele wildheid, word saam met ’n jaar oue Hugenot-kaas op tuisgemaakte preibrood geplaas. Die brood is stadig gebraai in droë-verouderde beesvleistalg, wat dit ’n ongelooflike diepte van geur gee.

’n Mondvol morsige plesier, wat jou laat lag en smeek vir nóg ’n hap.

Geelstert gereg

Braaibroodjie

Toe is dit tyd vir die rooivleis. En nie sommer enige steak nie — die volgende gereg was vir my ’n revelasie. Dis sonder twyfel een van die lekkerste geregte wat ek in my lewe geproe het. VUUR se interpretasie van die klassieke “Steak, Egg & Chips” is ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring wat op elke mens se bucketlist hoort.

Wagyu-steak, perfek gebraai. ’n Smeersel van chermoula wat hitte en varsheid bring. ’n Strooi van Togarashi vir ’n Japannese skop. Soetpatat vir balans. En dan, die kroon, ’n eiergeel gevul met beenmurg.

Die gereg word in twee dele bedien. Jy neem self daardie ryk, botterige eiergeel en giet dit oor die steak. Die sous vloei stadig oor die vleis, meng met die speserye en vorm ’n bord vol absolute perfeksie.

Ek was verlief. Dit is my nuwe “death row meal”.

En toe… toe sien ek Shaun gooi ’n reuse, geelvet steak op die kole. Die kole sis. Die vet begin sing. En ek? Ek is weer soos ’n kind voor Kersfees. Wat gaan ek volgende gaan proe?

Steak, Egg & Chips

Lekkerste gereg wat jy ooit sal proe.

By VUUR kry jy nie net ’n braai nie — jy kry ’n herinnering. Dis nie ’n eetplek waar jy stil-stil jou bord leegmaak en huis toe gaan nie. Dis ’n plek waar jy kuier. Waar jy lag, gesels, stories verruil en die soort kos eet wat jou vir altyd sal bybly. Dit voel soos ’n braai by ’n ou vriend, een wat toevallig ook van die beste steaks in die wereld maak.

Elke gereg word fyn gepaard met ’n wyntjie wat dit perfek komplementeer. Jy sit en kyk uit oor ’n oop veld vol wild — springbokke, sebras, ’n wildebees of twee — en voor jy jou oë uitvee, is jy vier ure later by jou sewende gang. Tyd verdwyn hier tussen die vlamme, geure, en glase wyn wat stadig leeg raak.

Die finale gereg? ’n Baque Burnt Cheesecake met roomys gegeur met hooi. Ja — hooi, soos wat perde eet. En vreemd genoeg werk dit. Die roomys bring ’n aardse, amper nostalgiese geur wat perfek balanseer met die romerigheid van die tert.

Op daardie stadium was ek propvol. Maar toe daardie eerste happie my mond tref, was die bord binne sekondes leeg.

’n Perfekte einde aan ’n perfekte dag.

Van die eerste happie tot die laaste, was ons ervaring by VUUR eenvoudig ongelooflik. Elke gereg, elke glas wyn, elke geur wat oor die kole opgestyg het — dit was alles deel van ’n meesterlik saamgestelde avontuur. Ek kan sonder twyfel sê dat VUUR onder my top drie eetervarings ooit tel — en ek is bevoorreg om al by baie van Suid-Afrika se top restaurante te kon aansit.

Ja, VUUR is aan die duurder kant. Maar dit is nie net ’n ete nie — dis ’n herinnering, ’n storie, ’n stukkie “magic” op ’n eiland in ’n dam op ’n wynplaas. Dis een van daai “once in a lifetime” ondervindings waarvoor jy elke sent met ’n glimlag betaal.

Baie dankie aan Shaun en die ongelooflike span by VUUR. Julle het iets besonders geskep — en ek was bevoorreg om dit te beleef.

Ek wens ek was ’n beter skrywer om my ervaring regtig reg te kon laat geskied… maar dalk sê dit alles dat ek eerder stil moet raak, terugleun en net sê: “Gaan beleef dit self.”

Website: https://www.vuurrestaurant.com/