1. Langebaan Beach Cottage
Langebaan Beach Cottage is vir my een van daai plekke wat soos tuis voel. Dis nie jou tipiese “fancy” Weskus-huis met al die trimmings nie. Die drie-slaapkamerhuis is eenvoudig, maar het meer as genoeg van alles wat jy nodig het vir ’n rustige wegbreek.
Die kombuis is goed toegerus en voel vir my soos ’n ou plattelandse kombuis. Groot vensters laat die oggendson instroom en vul die huis met natuurlike lig. Die sitkamer het geen TV nie — net ’n rak vol boeke. En eerlikwaar, as jy hier bly, wíl jy nie TV kyk nie. Jy wil onder die bome sit, met ’n vuurtjie wat brand en ’n doppie in die hand.
Die erf strek al die pad tot onder by die lagoon. Wat ek ook baie geniet, is dat al die restaurante en winkels regtig op loopafstand is — en ek bedoel loopafstand. Met RocXi’s Beach Bar en Pearly’s as jou bure, kan jy maklik ’n ekstra cocktail drink en dan strandlangs terugstap huis toe.
Ons het al twee keer by Langebaan Beach Cottage gebly, en elke keer bring dit ’n rustigheid oor my. Ek is nou nie een vir sulke dinge nie, maar daar is rêrig iets soos “good energy” in die huis.
Ons spandeer meeste van ons tyd buite op die stoep, gaan stap op die strand, of loer in die winkels in die hoofstraat.
Die slaapkamers is ruim, en elke kamer het sy eie badkamer. Die hoofslaapkamer het ’n en suite, terwyl die ander twee kamers se badkamers net buite hul deure is. Die enigste ding wat ek sou verander, is ’n groter bed in die hoofslaapkamer — ek dink dis ’n dubbelbed, of dalk ’n klein queen, so ons lê maar styf in die aande!
Omdat die huis so naby aan die restaurante is en skuins agter hulle geleë is, is daar soms ’n bietjie geraas van afleweringstrokke — maar dit was tot dusver baie min, en beslis nie ’n daaglikse probleem nie.
Jy moet jou eie hout saambring, maar daar is WiFi en parkeerplek agter ’n hek vir ten minste twee voertuie.
Langebaan Beach Cottage is my nommer een keuse vir 2025, bloot omdat ek so tuis voel daar. Die rye olyfbome, die ongelooflike sonsondergange, die ligging reg op die lagoon en die gevoel van ’n egte ou Weskus-strandhuis. Dis die tipe plek waar jy destyds saam met jou ouers vakansie gehou het — ’n huis met net die nodigste, waar jy buite sit tot laat, kyk hoe die vlermuise die goggas vang, en die vuurtjie stadig brand.
Website: https://greenmountain.co.za/langebaan-beach-cottage/